Musiek uit die Amerikas vir Dekaanskonsert
Die klavierduopaar, Pierre van der Westhuizen en Sophié Grobler, is oudstudente van die Skool vir Musiek, Noordwes-Universiteit. Hulle het hulle nagraadse studie in die VSA voortgesit en albei het onlangs doktorsgrade in klavieruitvoering verwerf by die College-Conservatory of Music in Cincinnati. Hulle is intussen aangestel by die Heidelberg College in Tiffin, Ohio as professors in klavier.
Hulle program vir die Skool vir Musiek se jaarlikse Dekaanskonsert op Dinsdag 29 Julie 2008 om 19:30 in die Konservatoriumsaal fokus op musiek vir twee klaviere deur komponiste uit Noord- en Suid-Amerika. Dit sluit in twee stelle danse deur John Corigliano en William Bolcom, 'n tango van Astor Piazzolla, en selfs die blues van Frederic Rzewski.
Kaartjies is beskikbaar gedurende kantoorure by die Konservatorium, tel. (018) 299-1692, of vanaf 'n halfuur voor die konsert by die loket teen R50 vir volwassenes, en R30 vir leerders, studente en pensioenarisse.

|
|
Akademiese skole
RSS (Jongste nuus)

|
|