Wat is Taaltegnologie?  (Klik hier om meer te lees oor Taaltegnologie in Suid-Afrika)
Taaltegnologie is tegnologie/programmatuur wat ʼn rekenaar in staat stel om natuurlike taal (soos Afrikaans, Tswana of Engels) te verstaan en te produseer, net soos wat mense dit doen.
Voorbeelde van taaltegnologiese toepassings sluit in:
Speltoetsers
Grammatikatoetsers
Taalaanleerporgramme
Websoekenjins
Vertaalprogramme
Wat kan Taaltegnologie vir jou beteken?
Die vermoë om deur middel van natuurlike taal effektief met rekenaars te kan kommunikeer stel jou in staat om die volgende te doen:
Om makliker en vinniger toegang te kry tot die inligting wat jy nodig het, en sodoende tyd te spaar deurdat jy ʼn oordosis onnodige inligting vermy.
Om met rekenaarsisteme te kan praat op enige plek: tuis, by die werk, in jou motor, in openbare plekke en enige ander plek waar jy inligting sou nodig kry.
Om ander tale aan te leer waar jy wil, wanneer jy wil, en teen jou eie tempo.
Om meer effektief in die besigheidswêreld te kommunikeer, deur byvoorbeeld hoëkwaliteitbriewe en –verslae te skryf.
Om beter en ʼn wyer verskeidenheid dienste te kan lewer en gebruik.
En vir Suid-Afrika?
Deur ʼn sterker kultuur van veeltaligheid, word taaltrots geskep. Ook word ʼn bewustheid geskep van die belangrikheid om minderheidstale in Suid-Afrika te bewaar en te ontwikkel.
Taaltegnologie bestaan al vir baie jare in Europa, die VSA en Asië. Met behulp van hierdie tegnologie sal Suid-Afrika ook op hoogte bly van internasionale ontwikkelinge in Kommunikasietegnologie en sodoende nuwe kennis en ervaring vir die mense van die land verskaf.
|