NWU Tuis  

 

 

 
Kontak ons  |  Soek
 
 
Alabama

 

NWU-Pukkampus spog met moderne klankopname-ateljee

Die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit spog met ’n ultramoderne klankopname-ateljee wat pas voltooi is. Alabama Produksies sal voortaan ’n een-stop-diens aan kunstenaars kan lewer om ’n CD te maak vanaf die klankopnames tot die kopiereg en verspreiding.
  Mnr. Pieter de Bruin, musiekregisseur van Alabama Produksies, sê die produkte en dienste van Alabama Produksies is toegespits op die behoeftes van die studentekunstenaar en is relevant, buigsaam en bekostigbaar. Gespesialiseerde kennis en hulp sal die kunstenaars se taak vergemaklik en die veilige ligging van die ateljee op die kampus maak dit maklik bereikbaar vir kunstenaars.
  Van die produkte wat aangebied word is ’n CD-etiket wat professionele klankopnames, grafiese ontwerp, kopiereg, basiese bemarking, verpakking en verspreiding insluit. Stemverwerkings en “backtracks”, kostuum- en dekorontwerpe, musiekliteratuur, bladmusiekuitgawes van NWU-liedjieskrywers en komponiste, werkswinkels, ligte musiekproduksies, verhuring van kostuums, asook produksiedienste soos klank- en beligtingstelsels vir skole-produksies is ook beskikbaar.
  De Bruin sê Alabama Produksies bring nou produkte en dienste wat voorheen net in stede beskikbaar was, tot op die voorstoep van Potchefstroom en die Noordwes-streek. “My wens is dat ons hier nie net fantastiese musiekoomblikke gaan beleef nie, maar ook wonderlike onderwys-oomblikke sal hê.”
  Tydens die amptelike opening van die ateljee het die rektor, prof. Annette Combrink, gesê die ateljee is vir die kampus ’n belegging en sy is trots op die innovasie en ondernemingsgees wat in die ateljee gesit is.
  Alabama Produksies het uit die geledere van die bekende Alabama Studentegeselskap ontstaan wat sedert 1943 vermaak aan die publiek verskaf het. Die studentegeselskap is verlede jaar omvorm tot Alabama Produksies met die strewe om kwalitatiewe en relevante kultuurondersteuning aan die kunstenaarsomgewing van Noordwes te bied.
  Navrae: Vir meer inligting skakel Pieter de Bruin by tel: (018) 299-2846 of besoek die webtuiste by www.studio.artema.co.za

NWU-Pukkampus spog met moderne klankopname-ateljee

NWU-Pukkampus spog met moderne klankopname-ateljee
Die rockgroep, Riaan Rottweiler, tydens 'n opname-sessie in die nuwe ateljee.

Kobus Schoeman van die Huisdokter wat die bouwerk van die klankopname-ateljee van Alabama Produksies hanteer het, prof. Annette Combrink (kampusrektor) en Pieter de Bruin, musiekregisseur van Alabama Produksies.




 


 

 

 

© 2009 Noordwes-Universiteit. Alle regte voorbehou.
Voorwaardes en Bepalings