NWU Tuis  

 

 

 
Kontak ons  |  Soek
 
   
 

Nuwe verbeterde Afrikaanse speltoetser bekendgestel

Met die eersdaagse bekendstelling van die Afrikaanse Speltoetser 3.0 , Tesourus 1.0 & Woordafbreker wys CTexT™ (Sentrum vir Tekstegnologie) weer hulle staal in die ontwikkeling van toonaangewende taaltegnologieprodukte vir Afrikaans. CTexT™, ʼn eenheid van die Navorsingseenheid: Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse Konteks by die Noordwes-Universiteit, is al vir langer as ʼn jaar bedrywig en die Afrikaanse Speltoetser 3.0, Tesourus 1.0 & Woordafbreker is die nuutste toevoeging tot hulle reeds stewige produkreeks.

Vandat die Speltoetser in die negentigerjare die eerste keer die lig gesien het, het die leksikon al verdubbel en vandag herken dit meer as 350 000 woorde – wat ʼn wye verskeidenheid eiename, vakterme en akronieme insluit. Danksy gevorderde morfologiese analise herken die nuutste speltoetser nou ook ʼn groot aantal nuwe samestellings en verbuigings.

Wat hierdie nuwe weergawe kop en skouers laat uitstaan bo sy voorganger (die Afrikaanse Speltoetser 2.1 & Woordafbreker), is die insluiting van ʼn tesourus. Die tesourus is gebaseer op LG de Stadler se Groot Tesourus van Afrikaans, en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Woordkeusegids.

Mnr. Roald Eiselen, projekleier van die span wat die tesourus ontwikkel het, beskryf ʼn tesourus as ʼn tipe “omgekeerde woordeboek” waar dit nie oor die spesifieke betekenisbeskrywing van die woord gaan nie, maar oor die verhouding waarin die woord tot ander verwante woorde en ander betekenisse staan (as‘t ware die “familie” van die woord). So byvoorbeeld hoort “straatkat”, “wildekat” en “huiskat” saam onder die inskrywing “kat”, wat weer opgeneem word onder “soogdier”. In die tesourus word woorde dus in klasse verdeel op grond van die gedeelde betekenisse en verbande tussen die woorde.

Hoewel die tesourus dikwels sinonieme van woorde verskaf, is dit streng gesproke nie ʼn sinoniemwoordeboek nie. As jy “kat” opsoek, kry jy ʼn lys van verskillende soorte katte: die gebruiker moet dus die woord kies wat in die betrokke konteks die beste sal werk. In ander gevalle bied die tesourus wel alternatiewe wat as sinonieme beskou kan word: as jy “sien” opsoek, kry jy woorde soos “waarneem”, “gewaar” of “aanskou”.

Die belangrikste funksie van die tesourus is dus om aan ʼn gebruiker alternatiewe woorde te gee om uit te kies. So byvoorbeeld kan jy lastige herhalings voorkom deur verskillende woorde met verbandhoudende betekenisse te gebruik. Op hierdie manier skep jy nie net ʼn interessanter en lewendiger teks nie, maar brei jy ook sommer jou woordeskat uit!

Die program is maklik om te installeer en is ook volledig geÔntegreerd met Microsoft Office 2000/XP/2003. Dit sluit ook ʼn woordafbreker in wat woorde aan die einde van die reŽl korrek kan afbreek. Die Afrikaanse Speltoetser 3.0 , Tesourus 1.0 & Woordafbreker word op 3 Augustus 2005 by Protea Boekhuis in Pretoria bekendgestel en sal binnekort op winkelrakke dwarsoor die land beskikbaar wees.

Afrikaans3.0

spel.co.za

 


© 2009 Noordwes-Universiteit. Alle regte voorbehou.
Voorwaardes en Bepalings