NWU Tuis  

 

 

 
Kontak ons  |  Soek
 
   
 

NWU-Puk-ingenieurs bou unieke mikro-gasturbine

Twee ingenieursskole van die NWU-Puk het 'n unieke mikro-gasturbine gebou wat voortaan 'n vername rol sal speel in, onder meer, die opleiding van studente en toekomstige navorsing.
  Deur die turbine self te bou het die ingenieursfakulteit honderde duisende rande bespaar, aangesien dit slegs in Amerika verkrygbaar is. Voorts het die Universiteit nou die data beskikbaar om verdere toetse en ontwikkelings te doen.
  Die gewildheid van gasturbines het die afgelope jare sterk toegeneem, veral as aandrywing vir straalvliegtuie, danksy hulle hoë krag-tot-massaverhouding. Hul vermoë om op verskillende brandstowwe en teen hoë temperature te funksioneer het tewens ook bygedra tot gewildheid vir kragopwekking.
  Volgens dr Barend Botha van meganiese ingenieurswese het die toenemende betrokkenheid van die NWU-Puk op die gebied van gasturbinetegnologie die behoefte laat ontstaan vir 'n toetsbank waarmee die basiese beginsels van gasturbines prakties aan studente gedemonstreer kan word terwyl dit ook die geleentheid bied vir verdere navorsing op die verskillende gebiede van gasturbines.
  Daar is toe besluit om die toetsbank plaaslik te ontwikkel, en die projek is saam met elektriese/elektroniese ingenieurswese aangepak weens die sterk teenwoordigheid van meganiese sowel as elektroniese komponente.
  Botha wys daarop dat daar tydens die ontwerpsfases aandag gegee is aan veiligheid, elektromagnetiese versoenbaarheid, onderhoubaar-heid, bekostigbaarheid en funksionaliteit.
  As sy finalejaarsprojek het mnr Jannie Oosthuizen die meganiese aspekte onder die loep geneem. Dit het die montering van die temperatuur en druksensors op die kritieke punte behels asook die ontwikkeling van 'n instrument om die stukrag te bepaal. Daarmee saam is 'n kabinet ontwerp en gebou om die toetsbank te huisves.
 Die karakterisering van die gasturbine met behulp van die ConceptsNREC-sagteware maak deel uit van mnr Thengi Molotsi se meestersgraadstudie. Dit sal ook die eerste inligting van sy soort wees vir 'n mikro-gasturbines van hierdie omvang wat vir die vervaardiger van groot waarde kan wees om die werkverrigting van die eenheid te verbeter.
  Die merkwaardige elektroniese beheerstelsel is deur mnr. Rossouw van der Merwe as deel van sy meestersgraadstudies onder leiding van prof. Johann Holm ontwikkel. Die data vir temperatuur, druk, spoed, stukrag en brandstofverbruik word gelyktydig op die beheerpaneel en 'n rekenaar vertoon. Die data word dan ook geberg sodat dit later ontleed kan word.
   Botha noem dat 'n stelselingenieurswese-proses tydens die ontwerp van die stelsel gevolg is. Hy het bygevoeg dat die funksionele analise wat gedoen is om die funksionele bevoegdheid van die stelsel te verseker 'n belangrike bydrae is. Voorts is steundokumentasie ontwikkel wat foutopsporing in die voortdurende veranderende akademiese omgewing dramaties verhoog.
  Die projek demonstreer die waarde wat samewerking tussen verskillende dissiplines reeds op universiteit kan inhou - vir die studente sowel as projekte. Benewens 'n groot besparing het die Universiteit die verdere voordeel van toegang tot die sagteware vir verdere toetse en ontwikkeling.
  “Verder kan die stelsel ook geïntegreer word met Flownex®, 'n termodinamiese netwerkanalise-pakket wat ook sy oorsprong by NWU-Puk gehad het, waar die resultate tussen 'n Flownex® simulasie en die geïmplementeerde stelsel vergelyk kan word,” sê Van der Merwe.
  Botha meen dié samewerking tussen die twee ingenieursskole het ‘n produk tot stand gebring wat in die toekoms nog baie voordele vir ingenieursstudente sal inhou.

 

NWU, Potchefstroomkampus: Fakulteit Ingenieurswese: Gasturbine
Die slimkoppe van die ingenieurswese-fakulteit wat gewerk het aan die unieke mikro-gasturbine is agter: dr. Barend Botha en prof. Johann Holm. Voor is mnre. Jannie Oosthuizen en Rossouw van der Merwe.

 NWU, Potchefstroomkampus: Fakulteit Ingenieurswese: Gasturbine
Mnr. Rossouw van der Merwe, meestersgraadstudent, besig om die mikro-gasturbine gereed te kry vir 'n toetslopie.

 


© 2009 Noordwes-Universiteit. Alle regte voorbehou.
Voorwaardes en Bepalings