Ses derdejaarstudente van die skole vir Elektries, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese en Meganiese Ingenieurswese het opnuut gewys wat steek in die Pukkampus se ingenieursfakulteit toe hulle vandeesweek aangewys is as die algehele wenners van die Siemens Cyber Junkyard-kompetisie vir industriële outomatisering. Die studente se inskrywing, 'n koffiemasjien van industriële kwaliteit, het nege ander genooide universiteitspanne uit Suider Afrika gewys waar Dawid die wortels gegrawe het. Hulle het vroeër vanjaar tot een van die finale tien spanne deurgedring in dié kompetisie wat gemik is op alle tersiêre instellings in Suider Afrika waar ingenieurswese aangebied word. Spanne tot sover as Zambië het ingeskryf.
|
Die NWU-Puk se Cyber Junkyard-wenners by hul wen-koffiemasjien wat jou warm drankie per robot aflewer. Agter is mnr. AbrieNieuwoudt en mee. Tanya Steyn en Adelle Bouwer. Voor is mnre. Piet van Huyssteen, dosent in rekenaaringenieurswese, Pieter Goosen, Wichert Huyser en Frikkie van Zyl.
|
Die wenners is Dinsdagaand (28 Oktober) tydens 'n glansgeleentheid in Johannesburg, waar meer as vierhonderd kundiges in die industrie teenwoordig was, aangewys. Dit is sedert 2006 die tweede keer dat studente van die NWU-Puk die kompetisie wen. Die vorige wen-inskrywing was 'n masjien wat sleutelhouers vervaardig en aanmekaarsit. Volgens prof. Jan de Kock, direkteur van die skool vir Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese, moes die studente aanvanklik 'n voorlegging doen vir die keuringsproses waarna hulle die koffiemasjien moes ontwerp en bou. Sekere vereistes het behels dat die masjien met afstandbeheer 'n versoek vir koffie ontvang, dit maak en per robot aan die klant wat 'n afstand van die masjien is, lewer. Hoewel sekere toerusting verskaf is, het die studente self die stelsel vervaardig en ingewikkelde rekenaarprogramme daarvoor geskryf. Die instrumentmakery op die kampus het van die onderdele gemaak. Die NWU-Puk se suksesvolle span het die werk onder leiding van mnr. Piet van Huyssteen, dosent in rekenaaringenieurswese, gedoen. Die spanlede, Adelle Bouwer, Tanya Steyn, Abrie Nieuwoudt, Pieter Goosen, Wichert Huyser en Frikkie van Zyl, het as wenners R50 000 se ingenieurstoerusting vir die NWU-Puk losgeslaan. Elkeen van die studente het voorts 'n skootrekenaar ryker geword en sal in Junie 'n konferensie by Sun City gratis bywoon as deel van hul beloning. Die groep kry ook die geleentheid vir 21 dae se gevorderde opleiding by Siemens, die hoofborg van die kompetisie.
|