NWU Tuis  

 

 

 
Kontak ons  |  Soek
 
   
 

Prof Hans du Plessis se Verbrande paradys 'n boeiende verhaal van liefde

 

Prof. Hans du Plessis, direkteur van die NWU se ATKV-skryfskool en skrywer van die immergewilde Griekwapsalms, se sesde roman is kraakvars op die rakke.
  Dié roman, Verbrande paradys, is die verwikkelde verhaal van mense uit die ekologies verbysterende  omgewing van die Vredefortkoepel. Du Plessis se nuwe roman beloof om weer 'n blitsverkoper te wees: Dit is 'n roman in die tradisie van Dalene Matthee se bosromans, sê Daniël Hugo in 'n verslag oor die boek.
  Sybrand Venter word in sy laaste skooljaar gedwing om baie vinnig volwasse te word, want sy pa se dood het soos ’n meteoriet in die lewens van die Venters, die Spogters en die Nels ingeplof. In die middelpunt van die verwikkelinge op Eden staan Reinet Venter met haar geheime verlede.
  Dit bepaal die verloop van die ontluikende liefde tussen Sybrand en Emma Nel van die buurplaas. Ook Andries Spogter, die atleet, en Henro Venter, wat so graag wil boer, se lewens bly nie onaangeraak deur dié enigmatiese vrou nie. Is die donker toekoms van Eden ook die toekoms van die Koepel?
  Die omgewing van die wêrelderfenisgebied vorm die ideale ruimte vir dié boeiende verhaal. Maar al is bewaring van die omgewing 'n tema, is dit nie 'n eko-roman nie, ook nie 'n tradisionele plaasroman nie. 'n Verhaal van liefde, sonder dat dit 'n liefdesroman word, die storie van jongmense, maar dit is nie 'n jeugverhaal nie.
  Verbrande paradys is 'n roman wat nie binne die grense van die genres vasgeskryf word nie, maar dit is die intense storie uit die pen van `n Afrikaanse woordkunstenaar wat die leser vir vierhonderd bladsye vashou en aangryp.

  • Meer as 150 publikasies – waaronder artikels in nasionale en internasionale tydskrifte -asook ‘n aantal taalkundeboeke het reeds van hom verskyn.
      Du Plessis het in 1978 gedebuteer as skeppende skrywer met die digbundel, Kleinwild. Daarna het Gewete van glas verskyn, gevolg deur die roman, Grensgeval. In die vroeë negentigs is die jeugroman, Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou, bekendgestel. In 1995 volg die roman, Bakgat, en wat dan van my, in 1996 Ditsem, Dawid en in 2001 die digbundel Innie skylte vannie Jirre, waarvan reeds byna 60 000 eksemplare verkoop is - die hoogste ooit vir enige Afrikaanse fiksie.
      In September 2002 verskyn 'n bundel Griekwagedigte oor Hooglied, Boegoe vannie liefde, waarvan daar in die eerste jaar ook 10 000 eksemplare verkoop is. In 2003 verskyn die geskenkboek, Hie neffens my, met foto's deur Heleen Theron. In September 2004 verskyn Splinters, 'n keur uit rubrieke.

Saamgestel deur Lieze du Preez



 

 

prof_hans_duplessis_90
Prof. Hans du Plessis
Direkteur: ATKV-Skryfskool

prof_hans_duplessis_verbrandse_paradys 
Verbrande paradys, die nuutste roman uit die pen van prof. Hans du Plessis, herinner aan Dalene Matthee se bosromans. Dit beloof om lesers vir vierhonderd bladsye vas te hou en aan te gryp.

13/02/2009

 


© 2009 Noordwes-Universiteit. Alle regte voorbehou.
Voorwaardes en Bepalings