NWU Tuis  

 

 

 
Kontak ons  |  Soek
 
   
 

Van Huyssteen loop ekstra myl met Junkyard  

 

“Dit is vir my een van die lekkerste goed om te doen. Om ’n projek te beplan, dit deur te voer en te sien hoe dit geïmplementeer word. Dit is vir enige ingenieur lekker om te beleef.”
  So sê mnr. Piet van Huyssteen, dosent in elektroniese ingenieurswese, oor sy betrokkenheid die afgelope drie jaar by die Siemens Cyber Junkyard-kompetisie. Dié gesogte kompetisie word sedert 2003 aangebied en die NWU-Puk het dit in 2006 en 2008 gewen.
  Van Huyssteen sê die kompetisie is uiters gewild onder studente en hulle moet jaarliks talle wegwys wat hieraan wil deelneem. ’n Span van ses derdejaar ingenieursstudente word uit die meganiese, elektriese, elektroniese en rekenaaringenieurswese-rigtings gekies. Dié span is van die begin af by die bou van die projek betrokke en lang ure word daaraan gewerk. Van Huyssteen sê kort voor die sperdatum word die span se toewyding getoets met party nagte wat daar niks geslaap word nie, terwyl hulle akademie ook nie mag stilstaan nie.
  Hy sê die kompetisie bring die praktyk en die akademie bymekaar waar deelnemers kennis maak met die bedryf. Tydens die bekroningsgeleentheid van die kompetisie ontmoet hulle sakelui en kan selfs met ’n werksaanbod daar uitstap.
  Die kompetisie word deur Siemens geborg en is daarop gerig om industriële elektroniese toerusting te voorsien om prosesbeheer toe te pas. Festo voorsien weer pneumatiese toerusting wat lugdruk beheer. Dié maatskappye stuur jaarliks tenders uit om aan ’n spesifieke projek deel te neem.
  Van Huyssteen sê hy het in 2006 die studente gehelp om ’n masjien te bou wat sleutelhouers aanmekaar gesit het. Die volgende jaar het hulle ’n model gebou om prosesvloei kalkulasies te doen en verlede jaar het hulle outomatiese koffiemasjien gewen. Lede van die wenspan ontvang groot pryse by Siemens, 21 dae se gevorderde opleiding in enige van hulle kursusse, asook ’n reuse bedrag se ingenieurstoerusting vir die universiteit.
  Van Huyssteen het ná sy studies in elektriese en elektroniese ingenieurswese by Pretoria Technikon vir twaalf jaar stelsels vir nywerhede ontwerp, asook harde- en sagteware vir die bedryf ontwikkel.
  Hy sê hierdie ondervinding kom hom baie handig te pas in die beplanning en uitvoering van die Cyber Junkyard-kompetisie.

Ses derdejaar studente van die Skole vir Elektries, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese en Meganiese Ingenieurswese het gisteraand die Siemens Cyber Junkyard-kompetisie vir instrustriële outomatisering in Johannesburg gewen.
Mnr. Piet van Huyssteen saam met die groep studente wat die kompetisie verlede jaar gewen het. Agter is Abrie Nieuwoudt, Tanya Steyn en Adelle Bouwer. Voor is Pieter Goosen, Wichert Huyser en Frikkie van Zyl.


 




Piet van Huyssteen van die Skool vir Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese
Piet van Huyssteen

19/03/2009

 


© 2009 Noordwes-Universiteit. Alle regte voorbehou.
Voorwaardes en Bepalings