|
|
| |
Waanders deel kundigheid oor steenkoolnavorsing
Die skool vir chemiese- en mineraalingenieurswese het bewys dat hulle gerekende wêreldkenners op die gebied van steenkoolnavorsing is. Prof. Frans Waanders is na die Fossil Fuel Foundation (FFF) se onlangse Indaba oor skoon steenkooltegnologie deur die media genader om sy vakkennis op RSG se joernaalprogram, Spektrum, te deel. Waanders se uitmuntende vermoë om hierdie ingewikkelde navorsingsveld in leke taal prikkelend oor te dra, het soveel belangstelling gewek dat twee verdere sessies ook uitgesaai is. Hy het gesê hoewel alternatiewe energieopwekkingsbronne tans die land laat gons en spekuleer, is steenkool steeds die mees betroubare en konstante hulpbron in engergieopwekking. Die omgewingsvriendelikheid daarvan word egter gereeld gekritiseer. |
 |
| Prof. Frans Waanders (tweede van regs en inlas) wys dat akademici ook soms vuil raak om navorsing te doen. |
Die fokus van die program was om luisteraars in te lig oor die begrip van skoon steenkooltegnologie en hoe steenkool met verbeterde tegnieke gesuiwer kan word om die negatiewe omgewingsimpak daarvan te minimaliseer. Die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus het die grootste steenkoolnavorsingsentrum in die land wat vanuit die Skool vir chemiese- en mineraalingenieurswese bedryf word. Die skool het hul al gevestig as internasionaal gerekende kenners op die gebied van steenkoolsuiwering en –ontwatering. Waanders was ook die gekose medevoorsitter van die Pittsburg Coal Conference wat in 2007 gehou is. Tydens dié konferensie het die skool hul staal gewys en is gekies om die International Coal Conference for Science and Technology in Oktober vanjaar in Kaapstad aan te bied.
|
|
|
|
30/03/2009
|
| |
|
|