|
|
| |
Ingenieurs brou bier vir praktiese opleiding
Die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus fokus daarop om praktiese en toepaslike opleiding aan studente te lewer. Die Skool vir chemiese- en mineraalingenieurswese het hierdie visie met oorgawe aangegryp deur 'n bierbrouprojek van stapel te stuur waar ingenieurstudente praktiese blootstelling kon kry met die fermentasie-proses. Die praktiese toepassing het egter nie net by brouery geëindig nie. Die studente moes saam met hul wetenskaplike verslag oor die fermentasieproses, ook hul produk effektief bemark. Die beoordeling van die verskillende groepe se konkoksies het daarna in ’n feestelike luim geskied. “Hierdie bierbrouproses fokus op die biochemiese aspekte van die chemiese ingenieurswese-kurrikulum en bykans twintig persent van alle chemiese ingenieurs se loopbane is gefokus binne relevante biochemiese industrieë” sê mev. Anka Oberholzer, dosent by chemiese ingenieurswese. Volgens Oberholzer het die studente baie inisiatief aan die dag gelê en het hulle 'n akademiese projek met goeie gees aangepak. Die dosente by die skool was al van vroegdag af oorval met pamflette en brosjures in poging om hul produkte bekend te stel. Daar het selfs lewensgrootte plakkate van sterre wat hul sogenaamde voortande sal gee vir 'n voorsmakie van die studente se wonderbier. Bekende restaurant-bestuuurders en dosente van die fakulteit het as beoordelaars opgetree en almal was van mening dat die bierbrouers hierdie jaar baie hoë standaarde gehandhaaf het. |
 |
| Die Spring Bock-span het ’n tweede plek verwerf met hulle bier. Hier is Marnie Meintjies en Urban Vermeulen by hulle stalletjie. |
Aan die einde van die dag het Akker Lager, vervaardig deur Corlia Jonker, Lauran Groenewald, Lauran Airdien en Janco Bredenkamp, met die prys vir “beste bierkwaliteit” weggestap. Die vervaardigers van Bitter Lekker Bier, Diaan Roode, Bart Saaiman, Lindi Combrinck en Niel Bouwer, was kort op hul hakke. Die span van Spring Bock, Marnie Meintjies, Urban Vermeulen en Stephan Louw, het met hulle uitmuntende bemarkingstegnieke met die louere weggestap in die kategorie vir “beste bemarkingsveldtog”. “Ek was regtig beïndruk met die studente se insig en waardegedrewe professionaliteit waarmee hulle die dag benader het. Dit laat my met alle gerustheid besef dat ons ingenieurs oplei wat gereed is om 'n verskil in die werksplek te maak,” sê Oberholzer. |
 |
| Akker Lager se “Lekker deur die blare” het die prys vir die beste bier gewen. |
|
|

|
03/04/2009
|
| |
|
|