NWU Tuis  

 

 

 
Kontak ons  |  Soek
 
   
 

Sweeftuig-dosent skitter met goue medalje

 

Die dosent by die skool vir meganiese ingenieurswese wat homself al herhaaldelik onderskei het as voorste lugvaartkenner, is deur die Lugvaartvereniging van Suid-Afrika met die Neels van Niekerk Goue Medalje vir Uitmuntende Prestasie in Lugvaartingenieurswese beloon.
  Die gesogte toekenning, wat mnr. Attie Jonker van Jonker Sailplanes losgeslaan het, is slegs die derde van sy soort wat die afgelope twintig jaar toegeken is. Die lugvaartvereniging vier in 2011 hul honderdste bestaansjaar.
  Die Rooivalk en Celstar was die vorige lugvaarttuie wat hierdie toekenning verower het. Jonker Sailplanes se JS1 Revelation spog nou met dié kroon.
 “Die lugvaartvereniging bestempel hierdie toekenning as van hoogstaande belang en dit word slegs toegeken aan mense wat hulself bewys as noemenswaardige bydraers tot lugvaartingenieurswese in Suid-Afrika. Hierdie is die hoogste eer wat die vereniging aan enige lugvaartingenieur kan toeken, en die JS1 Revelation verdien dit,” het mnr. Rob Jonkers, voorsitter van die vereniging, gesę.
  Volgens hom is op Jonker Sailplanes as wenner besluit weens hul baanbrekerswerk en -bydrae tot lugvaartingenieurswese. Die brons medalje wat Jonker Sailplanes verlede jaar by die Royal Aeronautical Society van Europa (RAeS) ontvang het, benadruk dit voorts dat Jonker en sy span die erkenning inderdaad verdien. Jonker Sailplanes was die eerste Suid-Afrikaanse instelling wat 'n toekenning van die RAeS ontvang het sedert hul totstandkoming in 1866.
Sweeftuig-dosent skitter met goue medalje

Die Jonker-broers, Uys en Attie, by hul JS1 Revelation-sweeftuig. Attie is met 'n goue medalje van die Lugvaartvereniging vanSuid-Afrika beloon.

Die goue toekenning is gemaak tydens ‘n glansgeleentheid waartydens Jonker ‘n uitstekende tegniese aanbieding gelewer het. Sowat sewentig ingenieurs het aan die NWU-dosent se lippe gehang. “Ek is sprakeloos oor jou werk,” het een van hulle opgemerk.
  Jonker is intussen deur die Universiteit van die Witwatersrand sowel as die Universiteit van Pretoria genader om lesings by hulle aan te bied.
   “Dit dui daarop dat my pogings waarde dra en dat die NWU ‘n nasionaal erkende sentrum vir lugvaartingenieurswese is,” sę Jonker.
  Oor sy prestasies is hy baie beskeie, maar as daar ‘n onderwerp is waaroor hy passievol kan praat, is dit sy liefde vir sweeftuie. Hy is al van vyfjarige ouderdom gaande oor die vaartuie en het op vyftienjarige ouderdom vir hom die mikpunt gestel om eendag ‘n węreldklas lugvaartingenieur te word.
  Intussen het hy groot gedroom en elke besluit wat hy tot dusver geneem het, was daarop gemik om die beste sweeftuig węreldwyd te bou. Volgens hom het die NWU se ingenieursfakulteit hom met kwaliteit opleiding toegerus sodat hy sy droom kon verwesenlik.
  Jonker Sailplanes is die eiendom van Jonker, sy broer, mnr. Uys Jonker, en mnr. Johan Bosman, ‘n voormalige student van Jonker.
  Jonker is nie net ‘n ontwerper van sweeftuie nie, hy presteer ook in die lug. Hy was reeds vier keer die nasionale sweeftuigkampioen en het as lid van die nasionale span gewys die JS1 Revelation is dié sweeftuig om te gebruik. Sweeftuig-entoesiaste węreldwyd se bestellings stroom tans in om een van die vaartuie, wat in Potchefstroom gebou word, te besit.

  • Die toepassing van Jonker se werk strek sedertdien verder as net sweeftuie – hulle is tans besig om hul navorsing uit te brei tot die gebied van windturbines.

 

 




Sweeftuig-dosent skitter met goue medalje 
Attie Jonker

21/04/2009

 


© 2009 Noordwes-Universiteit. Alle regte voorbehou.
Voorwaardes en Bepalings