NWU Tuis  

 

 

 
Kontak ons  |  Soek
 
   
 

Carstens nuwe ondervoorsitter van SA Akademie

’n Gesoute taalkenner van die Pukkampus van die Noordwes-Universiteit is die nuwe ondervoorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
  Prof. Wannie Carstens, direkteur van die skool vir tale, is vir die termyn van 2009 tot 2011 verkies.
  Hy is slegs die derde Pukpersoneellid wat hierdie eer te beurt geval het. Sy voorgangers was prof. SPE Boshoff (voorsitter van 1949 tot 1951) en prof. TH le Roux (voorsitter van 1951 tot 1952). Albei was destyds aan die PU vir CHO verbonde, maar toe hulle die ampte beklee het, was hulle nie meer personeel van die universiteit nie.
  Carstens is sedert 1992 ’n Akademielid en dien sedert 2001 op die raad van die SA Akademie. Hy is aktief in taalkringe en dien Afrikaans in ’n hele aantal hoedanighede. Hy is voorsitter van die nuut gestigte Afrikaanse Taalraad, is ondervoorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans van PanSAT, lid van die direksie van die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) op Stellenbosch en lid van die adviesraad van die Afrikaanse Taalmuseum en Taalmonument in die Paarl.
  Carstens was lank lid van die taalkommissie van die SA Akademie en is in hierdie opsig mede-outeur van die negende uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en SpelreŽls (2002).
  Nog ’n veer in sy hoed is dat hy mede-ontvanger was van die CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap van die SA Akademie vir sy bydrae tot die Woordelys en SpelreŽls.
  Carstens is ’n gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting en het ook ’n aantal boeke op sy kerfstok. Hy werk tans saam met 'n Vlaamse navorser aan 'n boek oor teksredaksie in Afrikaans.


21/07/2009

 

 

Prof Wannie Carstens , nuwe ondervoorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
Prof. Wannie Carstens.

 

 


© 2009 Noordwes-Universiteit. Alle regte voorbehou.
Voorwaardes en Bepalings