’n Nagraadse student van die fakulteit ingenieurswese op die Pukkampus van die Noordwes-Universiteit se doktorale proefskrif is onlangs as een van die drie bestes in die wêreld aangewys. Dr. Pieter Fick het sy doktorsgraad in September 2008 ontvang waarna sy proefskrif, Control systems trip management in the chemical industry, tydens ’n internasionale ingenieurskompetisie van ASEM (American Society of Engineering Managers) as een van die drie bestes aangewys is. ASEM bied jaarliks ’n konferensie in Amerika aan en die West Point militêre akademie in die VSA het versoek dat studente wat in 2008 hul doktorsgraad verwerf het, vir ’n kompetisie moet inskryf. Prof. Pieter Stoker van die fakulteit het Fick se proefskrif vir die Engineering Management PhD Dissertation Award genomineer. Ná die aanvaarding van sy proefskrif moes Fick die konferensie in Missouri bywoon en ’n voorlegging voor kongresgangers van verskeie lande doen. Fick het meegeding met 188 inskrywings uit Brittanje, Europa, China, Japan en Indië. Hy het gesê sy prestasie het bewys dat Suid-Afrika op gelyke vlak is met die res van die wêreld en dat dit vir hom ’n persoonlike hoogtepunt in sy lewe was om sy doktorsgraad op die ouderdom van 57 te verwerf. Fick het sowat 35 jaar ondervinding in die petrochemiese bedryf en as deel van Sasol Tegnologie se ingenieursbestuursgroep vir die laaste tien jaar, het hy besluit om die tegniese risiko’s in die chemiese nywerheid te ondersoek en te evalueer. Fick se uitsonderlike prestasie het ook tot gevolg gehad dat die Noordwes-Universiteit op ASEM se lys van geakkrediteerde universiteite aangebring is. Stoker het gesê Fick se proefskrif dra by tot die integriteit en kwaliteit van toekomstige projekte vir ingenieursbestuurders in die chemiese nywerheid.
|