NWU Tuis  

 

 

 
Kontak ons  |  Soek
 
 
Skool vir Farmasie

 

Nuus

Farmasie Opedag vir voornemende studente

Die Skool vir Farmasie het op Saterdag 12 Julie 2008 ‘n Opedag gehou waartydens voornemende farmasiestudente en hul ouers op die kampus ontvang is om die dag saam met hulle deur te bring en meer te wete te kom van die aptekersprofessie.

Sowat 160 studente en hul ouers het die geleentheid bygewoon. Hulle het die geleentheid gehad om eerstehands te verneem van die persoonlike ervaring van aptekers uit die verskillende sektore van die professie.  Dit was vir baie ’n openbaring om te verneem van die wye spektrum van beroepsmoontlikhede in die professie en dat aptekerswese nie net die apteek op die hoek behels nie.

Prof. Chris van Wyk het die gehoor ingelig oor die groot tekort aan aptekers in bykans al die sektore van die beroep met die gevolg dat werkgeleenthede volop is. Dr. Chris Stubbs, groephoof: tegniese ontwikkeling van Aspen Pharmacare, een van die grootste plaaslike medisynevervaardigers, het die loopbaanmoontlikhede in die farmaseutiese vervaardigingsnywerheid geskets.

Mnr. Tiaan Serfontein, desturende direkteur van Medscheme, Namibië, het die gehoor ’n kykie gegee in die wêreld van mediese fondse en die ontluikende loopbaanmoontlikhede vir aptekers as gesondheidsorgbestuurder. Twee ander sprekers was me. Liezl Fourie (Olivedale Kliniek, Randburg) wat die apteker in die privaat hospitaalsektor verteenwoordig en Me. Hettie Marais (adjunkdirekteur, Farmaseutiese Dienste, Vrystaat), wat die gehoor toegespreek het oor die rol van die hospitaalapteker in die publieke hospitaal.

Ná tee en verversings kon voornemende studente by monde van dr. Johann Kruger (eienaar; Forum Apteek in Pretoria) uit die perd se bek hoor watter toekomsmoontlikhede daar in gemeenskapsaptekerswese is terwyl mnr. Corrie Pretorius (streekbestuurder van Medirite Apteke) die gehoor ingelig het oor die apteker in die korporatiewe wêreld van kettinggroepapteke.

Die boodskap wat deurgaans na vore gekom het, is die geweldige tekort aan aptekers en die kompetisie van die verskillende sektore om aptekers te bekom.

Die oggend is afgesluit met ’n besigtigingstoer van die Skool en middagete.

Opedag
Die sprekers saam met die organiseerders. Vlnr. Mnr.
Corrie Pretorius, me. Liezl Fourie, dr. Chris Stubbs, prof.
Douglas Oliver (skooldirekteur), me. Rina Meyer
(organiseerder), me. Hettie Marais, mnr. Tiaan Serfontein,
prof. Chris van Wyk en dr. Johan Kruger.

 

© 2009 Noordwes-Universiteit. Alle regte voorbehou.
Voorwaardes en Bepalings