NWU Tuis  

 

 

 
Kontak ons  |  Soek
 
 
Skool vir Farmasie

 

Nuus

'Vader van farmasie' vereer met eredoktorsgraad

Prof. Antoon Goossens, die man wat met reg die vader van farmasie by die Noordwes-Universiteit bestempel word, is op 16 Mei 2008 met ‘n eredoktorsgraad vereer vir sy baanbrekerswerk in die ontwikkeling en vestiging van die fakulteit farmasie.

Prof. Goossens,  wat voorheen vir altesame tien jaar die dekaan van die fakulteit was, geniet ondanks sy aftrede in 1993 steeds erkenning as ‘n vername leier op die gebied van farmasie in Suid-Afrika.

Sy besondere bydrae om die fakulteit as die beste opleidings- en navorsingsinstansie vir die farmaseutiese wetenskappe in die land te vestig het hom ook internasionale status besorg.

Goossens het voorts bygedra tot die vestiging van ’n samewerkingsentrum vir die kwaliteitsversekering van geneesmiddels wat bydraes namens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in Suid-Afrika en op die Afrika-kontinent lewer. Hy het ook bygedra tot die ontwikkeling van die navorsingsinstituut vir industriële farmasie wat in samewerking met die WGO, die VSA-regering en die farmaseutiese bedryf (nasionaal en internasionaal) uitmuntende werk doen op die gebied van MIV/vigs en malaria.

Goossens het sy akademiese loopbaan as lektor in 1966 by die Pukkampus begin. By sy alma mater was hy ook instrumenteel in die daarstelling van die Skool vir Farmasie met die vyf hoofvakke: Farmaseutika, Farmaseutiese chemie, Farmakologie, Kliniese farmasie en Farmasiepraktyk.

Goossens is ook tydens sy loopbaan aangewys in verskeie ander akademiese- en bestuursposisies op die gebied van farmasie. Hy was onder meer stigterslid en eerste voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Farmaseutiese Wetenskappe.

In wyer konteks het hy ‘n besondere rol gespeel in die vestiging van die farmaseutiese beroep in Suid-Afrika en sy bydraes word onderstreep deur aangewys te word as Fellow of the Pharmaceutical Society of South-Africa. Hy is ook lewenslange erelid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kosmetiese Farmaseutika.

Voorts is hy verskillende termyne deur die minister van gesondheid aangestel as lid van die Medisynebeheerraad en die Suid-Afrikaanse Raad vir Farmasie. Hy het ook die hoogste posisie in die farmaseutiese omgewing beklee as president van die Suid-Afrikaanse Aptekersraad.

Die baanbreker is steeds op akademiese gebied betrokke in die vertaling van voorgraadse farmasiestudente se kurrikula.

Goossens (72) is getroud met Bets en die egpaar het drie kinders, Antonie, Ignatius en Judith.

Goossens
Prof. Antoon Goossens (tweede van links) saam met huidige
en voormalige departementshoofde van die Skool vir Farmasie. Links staan prof. Chris van Wyk, prof. Boeta Koeleman (eer-
tydse dekaan) en die huidige skooldirekteur, prof. Douglas Oliver.

 

© 2009 Noordwes-Universiteit. Alle regte voorbehou.
Voorwaardes en Bepalings