Vakgroep Fisiologie
Historiese Agtergrond
Op 1 Februarie 1946 aanvaar dr. PJ Hamersma diens in die departement Dierkunde aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys met die opdrag om Fisiologie, Diëtetiek en Farmakologie te doseer. Gedurende hierdie jaar skryf dertien studente vir Fisiologie I in waarvan sewe die volgende jaar met Fisiologie II voortgaan.
Aan die begin van 1948 kom departement Fisiologie as onafhanklike departement tot stand met dr. Hamersma as hoof. Buiten bogenoemde vakke moes die departement ook nog Biochemie in samewerking met departement Chemie aanbied. Die begroting van die departement in 1948 het bestaan uit 'n laboratoriumtoelaag van £247-4-1.
In die vyftigerjare word Dieetkunde saam met Huishoudkunde as ‘n afsonderlike departement vanuit Fisiologie gestig. Vanaf 1955 word Fisiologie as 3-jarige hoofvak aangebied terwyl Farmakologie deur die departement Farmasie aangebied word.
Op 10 April 1964 word die huidige Fisiologiegebou amptelik in gebruik geneem tydens 'n geleentheid waar dr. A. Hertzog (minister van Pos- en Telegraafwese en Gesondheid) die rede voer.
Prof. PJ Pretorius word in 1969 die departementshoof na die afsterwe van prof Hamersma. In 1973 kom die huidige departement Biochemie uit departement Fisiologie tot stand met dr. CJ Reinecke as die hoof.
Prof. PJ Pretorius tree gedurende 1991 af na bereiking van die ouderdom van 60 jaar en word vanaf 1 Januarie 1992 deur prof. NT Malan opgevolg.
In November 1998 word die Dept. Fisiologie saam met die Dept. Dieetkunde en Gesinsekologie saamgegroepeer in die Skool vir Fisiologie, Voeding en Verbruikerswetenskappe.
Op 1 Januarie 2004 smelt die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys saam met die Universiteit van Noord-Wes, en vorm die nuwe Noordwes-Universiteit. Die Vakgroep Fisiologie funksioneer dus huidiglik binne Skool vir Fisiologie, Voeding en Verbruikerswetenskappe van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit. Navorsing wat in die Vakgroep Fisiologie gedoen word, word onder die vaandel van die Narvorsingsfokusarea 9.1 (Voorkomende en Terapeutiese Intervensies) gedoen.
Beroepsmoontlikhede
’n Groot verskeidenheid beroepe vereis kennis van Fisiologie. Dit is omdat Fisiologie ‘n basiese mediese wetenskapsvak is en daarom sal Fisiologie ‘n belangrike rol speel as in enige mediese/paramediese studierigting, waaronder farmasie, verpleegkunde, biokinetika, (medies en fisioterapie wat by ander universiteite verder studeer kan word). Fisiologie kan ook in kombinasie met ander vakke, soos bv. biochemie, psigologie of dierkunde geneem word. (Die kursusse word in detail in die afdeling: Kursusse bespreek).
Oral waar “die mens” betrokke is, is hierdie kennis van belang. Enkele voorbeelde van werkgewers in Suid-Afrika is:
- Institute en navorsingseenhede van die Mediese Navorsingsraad
- Institute en departemente van mediese skole wat navorsing doen
- Die Nasionale Sentrum vir Bedryfsgesondheid
- Die Instituut vir Mannekragstudie en Ergonomie
- Die Instituut vir Lugvaart-geneeskunde
- Die laboratoria van die Departement van Gesondheid in verskeie stede en dorpe
- Die landbounavorsingsinstitute en -kolleges vir veeartsenykunde en veekundige navorsing
- Die myn-industrie
- Sekondêre skole as onderwyser
- Technikons en universiteite (dosent en/of navorser)
- Die navorsingslaboratoria vir bedryfshigiëne
- WNNR se laboratorium vir mynboutegnologie (Beroepshigiëne).
- Die navorsingslaboratoria van farmaseutiese maatskappye of patoloë
- Selfgeëmplojeer as bedryfshigiënis
- Gaan kyk gerus na die volgende webbladsye vir nog geleenthede: www.opushealth.org , www.academiccareers-jobs.com, http://www.nature.com/naturejobs/science en www.physoc.org/jobs/index.asp
|