NWU Tuis  

 

 

 
Kontak ons  |  Soek
 
 
Skool vir Fisiologie, Voeding en Verbruikerswetenskappe

 

VAKGROEP VERBRUIKERSWETENSKAPPE

Baie welkom by die vakgroep Verbruikerswetenskappe van die Noordwes-Universiteit.

Vanuit die begrip Verbruikerswetenskappe kan twee belangrike aspekte geïdentifiseer word wat fundamenteel tot die definiering van Verbruikerswetenskappe lei. Eerstens is die Suid-Afrikaanse Verbruiker 'n kern komponent waarop gefokus word en tweedens die feit dat die verbruiker vanuit 'n wetenskaplike perspektief benader en bestudeer word. Waarom word daar juis op die Suid-Afrikaanse verbruiker gekonsentreer?

Die uitgangspunt van Verbruikerswetenskappe is dat die Suid-Afrikaanse verbruiker daagliks verbruikersbesluite neem ten opsigte van dienste benodig en produkte wat aangekoop word. Hierdie dienste of produkte word deur die verbruiker verbruik om in sy/haar behoeftes te voorsien. Verder het die verbruiker ook beperkte kennis van sekere aspekte wat sy daaglikse lewe raak en beskik ook oor net sekere vaardighede om sy behoeftes aan te spreek.

Verbruikerswetenskappe benader die Suid-Afrikaanse verbruiker vanuit drie hoofkomponente naamlik voedsel, kleding en verbruikershulpbronne wat ondermeer behuising en binneontwerp insluit. Hierdie drie komponente vorm die basiese behoeftes waarin die verbruiker kennis en vaardighede benodig om 'n verantwoordelike en ingeligte verbruiker te wees. Verbruikerswetenskappe bestudeer die verbruiker binne hierdie drie hoof komponente om sodoende 'n beter begrip van 'n tipiese Suid-Afrikaanse verbruiker te vorm.

Die diversiteit van die Suid-Afrikaanse verbruiker het ook 'n belangrike fokus binne die regering en industrie geword. Beide hierdie instansies handhaaf die perspektief dat daar 'n groot persentasie Suid-Afrikaanse verbruikers is wat ondermeer kennis oor die drie komponente (voedsel, kleding en verbruikershulpbronne) benodig. Hierdie kennis vorm deel van die verbetering van hul lewensvaardighede. Aansluitend hierby benodig die verbruiker ook vaardighede om hul sosio-ekonomiese posisie te verbeter en aan te spreek. In hierdie opsig is die Verbruikerswetenskaplike in staat om die kapasiteit van die Suid-Afrikaanse verbruiker op te bou tot 'n verantwoordelike en ingeligte verbruiker wat oor die nodige kennis en vaardigheid beskik om 'n verbetering in hul kwaliteit van lewe teweeg te bring. Binne die industrie is verbruikersopvoeding ook 'n essensiële diens wat deur die Verbruikerswetenskaplike gelewer word. Op hierdie gebied het die verbruiker hulp, leiding en raad nodig om toepaslike verbruikersbesluite te neem ten opsigte van dienste en produkte. Die opleiding wat die Verbruikerswetenskaplike ontvang stel hom/haar in staat om 'n waardevolle opvoedkundige diens te lewer. In samehang hiermee is die Verbruikerswetenskaplike in staat om produsente te help om produkte en dienste te ontwikkel wat spesifiek volgens die behoeftes van die Suid-Afrikaanse verbruiker gerig is.

Die begrip vir die behoeftes van die Suid-Afrikaanse verbruiker word op 'n wetenskaplike wyse ontgin binne die houdings-, persepsies- en ideesraamwerk wat die verbruiker oor die drie komponente (voedsel, kleding en verbruikershulpbronne) besit. Die gevolg is dat die opleiding van die Verbruikerswetenskaplike student gerig word op die bevindinge van wetenskplike verbruikersgedragondersoeke.

terug na bo

 


© 2009 Noordwes-Universiteit. Alle regte voorbehou.
Voorwaardes en Bepalings