NWU Tuis  

 

 

 
Kontak ons  |  Soek
 
 
Skool vir Filosofie

 

WELKOM BY DIE SKOOL VIR FILOSOFIE

Wat is filosofie?
Is filosofie nuttig?
Loopbaanmoontlikhede met filosofie
Belangrike skakels

Wat is filosofie?

Die eerste Griekse wetenskaplikes het hulle verwonder oor verskynsels in hul leefwêreld en het na rasionele verklarings daarvoor gesoek. Dié pogings om sin te maak van die wêreld, is deur die Grieke “filosofie” genoem. Dit beteken “liefde vir die wysheid” [filos = liefde; sofos = wysheid]. Filosofie kan dus beskryf word as ‘n doelbewuste poging van die mens om sin te maak van die wêreld waarin sy of hy haar- of homself bevind en van haar of sy plek in daardie wêreld. Wat die Westerse denkwêreld betref, is die Filosofie vir die eerste keer formeel beoefen in twee “skole” in Griekeland, die Akademos van Plato en die Lycium van Aristoteles.

Dit was die begin van die ontwikkeling van die Westerse wetenskap. Uit die Filosofie het die ander wetenskapppe mettertyd ontwikkel na mate daar behoefte aan groter spesialisasie ontstaan het.

Dit was egter nie die einde van filosofiese verwondering nie. Oor die diepste en finale vrae van die lewe wonder mense steeds: "Wie is ek?", "Waarheen is ek op pad?", “Hoe maak ek sin uit alles”, "Is daar 'n God?", “As God bestaan, wat beteken dit vir my lewe op aarde”, "Hoe kan ek gelukkig leef en sterf?". Alle mense gee, meesal onbewustelik in 'n wêreldbeskouing, antwoorde op hierdie vrae. As die antwoorde bewustelik en nadenkend gebeur, word die terrein van die Filosofie betree.

Hierdie soort nadenke is steeds die diens wat Filosofie ook aan die wetenskap bied: Filosofie is die kompas wat die beste wetenskaplikes oriënteer in hul verkenning van nuwe wêrelde omdat dit besig is met die ideë-agtergronde, strukture en voorwaardes van menslike ervaring. Meer nog, Filosofie is bekend daarvoor dat sy mense uitdaag en die vaardighede leer om na te dink en te kritiseer waar kritiek nodig is.

Filosofie by die Puk het 'n trotse tradisie van nadenke vanuit 'n Christelike perspektief. Voortbouend op hierdie tradisie wil ons die gesprek en nadenke oor die verhouding “wêreldbeskouing”, “wetenskap” en die “moderne kultuur” voortsit.

Terug na bo


Is Filosofie nuttig - wat sê die “feite”?

Vir meeste studente is die vraag “wat kan ek met ‘n vak doen/word?” die belangrikste oorweging voordat hulle daarvoor inskryf. Dit sal baat om vir 'n oomblik te luister na die nut wat nie-filosowe in die filosofie sien.

In die VSA moet studente ‘n sogenaamde "Standardized Test Scores of College Graduates" aflê om toelating te kry tot nagraadse opleiding in professionele rigtings soos die medisyne, regte en ekonomie. Na 'n analise van die resultate van die toetse het dit geblyk dat studente wat in hul eerste "B" grade Filosofie as hoofvak gehad het, beduidend en konsekwent beter in die toetse gevaar het. Hierdie gegewens is nogal insiggewend as 'n mens in gedagte hou dat die toets spesiaal ontwerp is om voornemende professionele mense te kies en nie akademici nie.

Hierdie selfde tendens vind ‘n mens ook in die arbeidsmark in Amerika. Mense met PhD’s in die filosofie kry, van al die geesteswetenskaplikes, die meeste werk in die besigheids- en industriële wêreld. Daarby is hulle ook die minste geneig om hul werk te verloor. Hier vaar hulle selfs beter as persone wat in die chemie en biologie opgelei is. Kan ‘n mens hieruit aflei dat ‘n belangrike voorwaarde vir ‘n suksesvolle loopbaan in ‘n professionele rigting (regte, medies, ingenieurswese, sakebestuurder ens.) die vermoë tot filosofiese denke is? ... Dalk tog wel!

Dit word ook berig dat filosowe in die VSA al meer gebruik word in situasies van besluitneming om ‘n nuwe dimensie aan besluitneming te verleen. Sommige hospitale het filosowe in diens geneem om dokters te adviseer oor lewe-en-dood situasies. Filosowe word deur van die federale state in diens geneem om die owerhede te adviseer oor dinge soos kern-afval en genetiese manipulering. Selfs die Amerikaanse kongres het filosowe in diens geneem om hulle te help om belangrike sake te deurdink.

Hoe moet 'n mens dit verklaar dat Filosofie hierdie belangrike “ekstra” gee aan ‘n universiteitsopleiding? Miskien kom Dr. Herbert Henzler - op sy dag hoof van die Duitse filiaal van McKinsey & Co. die naaste aan 'n antwoord. Henzler maak die opmerking dat filosofies opgeleide mense se ervaringswêreld net veel wyer is as enige iemand anders s'n. Hy formuleer dit soos volg: "'n Man van lettere, 'n wyd-ontwikkelde man, het baie antennas om met medewerkers en kliënte om te gaan, om aan die onderneming 'n deurdagte doelvoorstelling te gee waarmee ander hulle kan identifiseer, sodat 'n geesteswetenskaplike inderdaad dikwels ver beter gekwalifiseerd is vir leidinggewende take".

Terug na bo

Loopbaanmoontlikhede met filosofie

Voornemende filosofiestudente vra gereeld watter werksgeleenthede die studeer van filosofie vir hulle kan inhou. Omdat filosofie mens leer om onder andere krities en sistematies te dink, om vrae te formuleer en logies te argumenteer, bied filosofie uistekende voorbereiding vir 'n verskeidenheid professionele beroepe. Dit bied 'n fondasie vir beroepe in regte, besigheid, onderwys, teologie, skrywerskuns, publieke administrasie en vele ander.

Die soort vaardighede wat die studeer van filosofie help ontwikkel is:
  • analisering, ontwikkeling en formulering van logiese probleme
  • genereer idees oor 'n verskeidenheid van probleme
  • formuleer en oplos van probleme
  • blootlê van aannames en suggerering van alternatiewe
  • vermoë om subtiele verskille te onderskei sonder om die
     ooreenkomste mis te kyk
  • vermoë om ingeligte besluite te neem en die implikasies daarvan
     deeglik te ondersoek
  • bekwaamheid om verskillende invalshoeke tot 'n sekere onderwerp te      ondersoek
  • vermoë om duidelik en effektief te skryf en te praat
  • interpreteer en evalueer van uiteenlopende denke en teorieë

Filosofie kan dus gesien word as 'n uiters oordraagbare vaardigheid na 'n verskeidenheid van beroepe. Met filosofie se klem op redevoering en argumentasie bied filosofie as hoofvak goeie voorbereiding tot onder andere die volgende beroepsrigtings:
  • regte
  • teologie en religie
  • bankwese
  • uitgewerswese
  • joernalistiek
  • publieke bestuur
  • berader/sielkundige
  • bemarking
  • professor/akademie
  • konsultasie
  • maatskaplike werk
  • beleidskrywing
  • onderwys
  • biblioteekwese
  • politiek
  • navorsing
  • arbeidverhoudinge
  • kunste en tale

Die inligting hierbo oor loopbaanmoontlikhede met filosofie, kom uit die Universiteit van Kentucky in die VSA se webblad. Dit kan besoek word by: "Where can philosophy take me?".

Ander webblaaie oor beroepsmoontlikhede met filosofie is:
Philosophy and your future
Working with Philosophy
Jobs in Philosophy
The Cronicle of Higher Education

Terug na bo

Belangrike skakels

Studiestuk oor belangrike vaardighede wat filosofie  studente aanleer en die waarde daarvan in die werkplek:
"Where next? Unlocking the potential of your philosophy degree."

Die Filosofiese Vereniging van Suidelike Afrika
(Philosophical Society of Southern Africa - PSSA):
PSSA

Die Suid-Afrikaanse Joernaal vir Filosofie
(South African Journal of Philosophy - SAJP)
SAJP

Terug na bo

Opgedateer op 05/05/2010 AHV
 

SKOOL VIR FILOSOFIE

Adres:
Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus
Privaatsak X6001
Potchefstroom
2520, Suid-Afrika
Tel & Faks: +27 18 299 4356

Direkteur: 
Prof MF (Michael) Heyns
Sosiale Wetenskappegebou, F13
Kantoor G09
Tel: (018) 299 1564
michael.heyns@nwu.ac.za

Sekretaresse: 
Margriet van Greunen
Sosiale Wetenskappegebou, F13
Kantoor G14
Tel:  (018) 299 4356
Faks:  (018) 299 4356
margriet.vangreunen@nwu.ac.za


DIE SENTRUM VIR GELOOF EN WETENSKAP (SGW) (Kliek hier)

 

 

 

 


© 2009 Noordwes-Universiteit. Alle regte voorbehou.
Voorwaardes en Bepalings