Geskiedenis en Antieke Kultuur
Behalwe die konvensionele Geskiedenismodules bied hierdie vakgroep ook opleiding in Erfenis- en Kultuurtoerisme en Antieke Kultuur aan.
Die doel en waarde van Geskiedenis Geskiedenis handel oor die optrede, gedagtes en emosies van mense binne samelewingsverband. Geskiedenis kan dus gedefinieer word as die studie van die herkenbare optrede van mense en in besonder daardie handelinge wat betekenis inhou vir die samelewing. Die geskiedenis word nie net ter wille van die verlede bestudeer nie, maar is daarop ingestel om die hede beter in die konteks van die verlede te begryp en te beoordeel. Geskiedenis as ’n mensgerigte wetenskap het dus betekenisvolle menslike optrede binne ’n samelewing in die visier. Aangesien die mens boeiend, kompleks en onvoorspelbaar is, is die beoefening van Geskiedenis ook lewend, opwindend en vol genot.
Beroepsmoontlikhede Geskiedenis verskaf noodsaaklike agtergrond vir feitlik al die ander vakdissiplines. Die vernaamste vakrigtings in die verband is die Taalwetenskappe, Sosiale Antropologie, Sosiologie, Filosofie, Opvoedkunde, Sielkunde, Politieke Studies, Maatskaplike Werk en Ekonomie.
Geskiedenisopleiding is noodsaaklik vir die volgende beroepe: • Geskiedenisonderwysers • Geskiedenisdosente • Professionele historici en skrywers • Kultuurhistoriese museums • Argivarisse
Geskiedenisopleiding is nuttig vir die volgende beroepe: • Onderwysers en akademiese beroepe • Administratiewe dienste en bestuur • Argeologie • Regsprofessie • Politiek • Diplomatieke en inligtingsdiens • Teologie • Uitgewery en joernalistiek • Maatskaplike Werk • Militêre inligting • Personeeldienste • Biblioteek-en inligtingswese • Kunsgalerye • Radio en Televisie • Wapenkunde • Genealogie • Kuns en letterkunde
Voorgraadse programme: Geskiedenis Geskiedenis kan as ‘n hoofvak aangebied word in die volgende programme:
Vir die graad B Sosiale Wetenskappe (BSocSc) • Individu en Samelewing (L301P) • Sosiale Dinamika (L302P) • Politiek en Samelewing (L303P) • Kultuur en Samelewing (L304P) • Omgewing en Samelewing (L305P)
Vir die graad BA Geesteswetenskappe: • Geskiedenis en die Humaniora (L316P)
Antieke Kultuur
Die waarde van Antieke Kultuur Antieke Kultuur word slegs op eerstejaarsvlak aangebied en handel oor aspekte van die kulture van die Ou Nabye Ooste (Sumerië, Assirië en Babilonië), die Grieke, die Romeine, die Islam en Afrika. Die nalatenskap van die antieke beskawings is die fondament waarop moderne samelewings gebou is. Deur hierdie nalatenskap te bestudeer verkry ons groter insig in die herkoms van elemente van hedendaagse samelewings. Baie van die klassieke kunsvorme en style uit die antieke tydperk, asook die beginsels van filosofiese denke en van regerings- en regstelsels wat uit daardie tydperk dateer, is waarlik universeel van aard en ontsluit 'n skat van kennis oor hoe mense binne die samelewing funksioneer.
Beroepsmoontlikhede Antieke kultuur kan deur enige student geneem word, maar is veral nuttig in die volgende beroepe: • Prokureurs en advokate • Toerleiers • Kunstenaars • Onderwysers • Diplomate • Predikante
Erfenis- en Kultuurtoerisme
Die vraag na praktisyns in die veld van erfenis- en kultuurtoerisme Weens die sterk groei van die toerisme- en erfenisbedrywe in Suid-Afrika is daar 'n toenemende vraag na behoorlike tersiêre opleiding om kundiges te lewer wat in hierdie bedrywe in diens geneem kan word. Daar is talle beroepsgeleenthede in hierdie veld vir onder meer: • Bestuurders • Administrateurs • Entrepreneurs • Toeroperateurs • Toergidse • Kultuurbeamptes in regeringsdiens (op nasionale, provinsiale en munisipale vlak) • Navorsers • Opvoeders • Erfenis-impakassesseerders
Ons omvattende pakket In samewerking met die vakgroep Toerismebestuur by die Fakulteit van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het ons 'n B.A. Toerismebestuursprogram ontwikkel met 'n streekfokus op die Noordwesprovinsie. Die volledige pakket van Toerismebestuur, wat aspekte soos die bestuur en bemarking van 'n toerisme-onderneming, asook ekotoerisme, gebeurtenisbestuur en wildplaasbestuur insluit, word aangevul met erfenis- en kultuurtoerisme om aan studente 'n omvattende grondslag vir hulle toetrede tot die erfenis- en toerismebedrywe te verskaf en hulle in staat te stel om die uitdagings van hierdie bedrywe kreatief te hanteer.
Akademiese, teoretiese en praktiese opleiding word gekombineer om studente te bemagtig met die kennis, vaardighede en waardes wat hulle vir beroepsukses sal benodig. Aan die een kant sal hulle op hoogte kom van die teoretiese en etiese kwessies in die bedryf en aan die ander kant sal hulle die nodige bestuurs- en bemarkingsvaardighede aanleer om 'n verskeidenheid toerismeprodukte vir die mark te ontwikkel. Insig sal verwerf word oor die werking van die erfenissektor en toerismebedryf in Suider-Afrika deur kennis te neem van die verband van die verskillende rolspelers in die openbare en private sektore, asook oor hoe die bedryf op streeksvlak in die groter globale prentjie inpas.
Lees gerus meer oor die voorgraadse en nagraadse kursusse in Geskiedenis op die Potchefstroomkampus, asook oor die kursusse in Antieke Kultuur .
U kan ook meer inligting bekom oor die personeel in hierdie vakgroep.
|