Tydskrif vir besondere en vergelykende taal- en literatuurstudie
Voorskrifte aan skrywers
1. Ooreenkoms met skrywers
Alleenreg op publikasie: die voorlegging van 'n artikel aan Literator impliseer dat Literator alleenreg op die publikasie van die artikel het - sowel in gedrukte media as in elektroniese en ander media.
2. Aard van bydraes
Artikels oor die besondere en vergelykende taal- en literatuurstudie, sowel teoreties as toegepas, sal vir publikasie in Literator oorweeg word.
3. Keuring
Alle voorleggings sal deur minstens twee keurders beoordeel word. Keuring word in algehele vertroulikheid gedoen, en die identiteit van die skrywer en keurders word nie bekendgemaak nie. Outeurs moet hulself nie in artikels identifiseer deur onder andere hul voorletters, van of universiteit in voetnote of gedeeltes tussen hakies te gebruik nie.
4. Formele vereistes
- Taalmedium: Manuskripte kan in Afrikaans of Engels voorgelê word.
- Die manuskrip moet in A4-formaat wees, in dubbelspasiëring, met ruim kantlynspasies en slegs op een kant van die bladsy gedruk. Die manuskripte moet taalversorg en finaal geredigeer wees.
- 'n Rekenaarweergawe van die artikel word by voorlegging verlang. Stuur die elektroniese weergawe van die artikel aan Susan.Lourens@nwu.ac.za (verkieslik as 'n Word-dokument). Die kantoorpersoneel onderneem om, indien nodig, vier papierkopieë namens die outeur te maak. R0,25 per bladsy sal gehef word vir betaling deur die outeur.
- Op die titelblad moet die outeur se voorletters en van, departement, universiteit en persoonlike e-posadresverskyn. Verstrek ook 'n privaat posadres, 'n telefoon- en faksnommer..
- Nadat die keurproses afgehandel is, en die outeur die kommentaar verwerk het, stuur asseblief 'n rekenaarkopie van die hersiene artikel en die outeur se begeleidende brief.
- Lengte: Vyftien (15) gedrukte bladsye (±6 100 woorde) word as algemene riglyn gestel.
- Stylfasette:
- Die titel moet so kort en bondig as moontlik wees. Genommerde opskrifte en subopskrifte moet met Arabiese syfers met punte genommer word, byvoorbeeld 3. word gevolg deur 3.1, 3.1.1 en 3.1.1.1 (tot hoogstens die vierde vlak).
- Artikels moet verkieslik verdeel word in subparagrawe met gepaste opskrifte - veral lang afdelings moet so onderverdeel word.
- Afkortings en akronieme in die normale teks is nie aanvaarbaar nie. Akronieme wat algemeen gebruik word, byvoorbeeld VSA, is egter aanvaarbaar.
- Kursivering word as aanduiding van beklemtoning of van 'n woord of uitdrukking uit 'n ander taal gebruik.
- Grafiese voorstellings, sketse, diagramme, tabelle moet reeds rekenaarmatig voorberei en deel vorm van die finale dokument.
- Hierdie grafika kan in enige rekenaarpakket voorberei wees, maar moet in 'n tif-, bmp- of jpeg -formaat gestoor of "ge-export" wees.
- Die grafiese lêers moet ook apart op die disket gestoor word of elektronies gestuur word. Die lêernaam moet duidelik op die disket aangetoon word.
- Die lettertipe wat in die grafika gebruik word, moet aanpas by die lettertipe wat Literator gebruik (Arial) - verkieslik 12pt grootte.
5. Abstract
Alle artikels moet van 'n taalversorgde abstract ('n opsomming in Engels) van ongeveer 200 woorde voorsien word. Direk daarna moet die Afrikaanse vertaling ingevoeg word - ook die vertaalde artikeltitel .
6. Kernbegrippe
Aan die einde van die artikel: voeg 3-4 kernbegrippe/baie kort frases in waaronder die artikel geïndekseer kan word. Gee ook onder key concepts due Engelse vertalings hiervan.
7. Bladgeld
By die voorlegging van 'n navorsingsartikel onderneem outeurs verbonde aan tersiêre inrigtings om, indien die artikel aanvaar word vir publikasie, die voorgeskrewe bladgeldfooi (R100 per bladsy) te betaal. Outeurs kan gewoonlik die bladgeld van hul inrigtings of navorsingsinstansies verhaal.
8. Mede-outeurskap
Artikels wat voorspruit uit verhandelings of proefskrifte: voor die voorlegging van die artikel moet die skrywer oorleg pleeg met die studieleier/ promotor.
9. Proefdruk
'n Proefdruk word vooraf aan die artikelskrywer gestuur om te proeflees. Neem kennis dat die wagtyd tussen voorlegging en plasing normaalweg 3-9 maande is. Die proefdruk word normaalweg elektronies gestuur. Veranderinge moet direk op die elektroniese kopie aangebring word in vetdruk en rooi (of in naspeurmodus), met 'n addisionele lys van bladsy-, paragraaf- en reëlnommers waarop aangedui word watter veranderinge waar aangebring is.
10. Verwysingsmetode
Die verkorte Harvard-metode moet gebruik word. Verwysings in die teks word soos volg aangebring: Anderson (1982:305), of (Anderson, 1982:305). By verwysing na werke van Klassieke en Middeleeuse outeurs word die naam van die outeur, die Latynse/Griekse titel van werke van Klassieke en Middeleeuse outeurs word die naam van die outeur, die Latynse/Griekse titel van die werk (kursief), en die boek, hoofstuk, paragraaf of reëlverwysing (in Arabiese syfers met punte tussenin) vermeld, byvoorbeeld:
Vergilius (Aeneïs 12.601); of
Cicero (De Officiis 1.13.2).
11. Voetnote
Die gebruik van voetnote moet so ver moontlik beperk word. As dit egter noodsaaklik is om van voetnote gebruik te maak, dui die voetnootnommer op die tersaaklike bladsy aan en verstrek die volledige teks van die voetnote onder aan die betrokke bladsy.
Verwysings na bronne wat in 'n voetnoot gegee moet word, word net soos in die hoofteks gedoen. Geen voetnoot moet egter uitsluitlik vir bibliografiese besonderhede gebruik word nie.
12. Geraadpleegde bronne
Bibliografiese besonderhede word in die lys van geraadpleegde bronne verskaf en nie by wyse van voetnote nie. Slegs werke waarna in die artikel self verwys word, moet in die lys van geraadpleegde bronne opgeneem en alfabeties gerangskik word.
Gebruik asseblief die outeur se van en voorletters/name (skrywersnaam) in die vorm soos dit op die titelbladsy van die boek of in die tydskrifartikel aangedui is. Titels: Selfstandige naamwoorde word nie met hoofletters geskryf nie, behalwe in die geval van eiename - of in spesiale gevalle. 'n Subtitel word van die hooftitel geskei deur 'n dubbelpunt.
Boek:
DU PLOOY, H.J.G. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth
ALFAU, F. 1988. Locos: a comedy of gestures. London: Viking.
In alle bibliografiese inskrywings moeet die plek van uitgawe en die uitgewer van 'n publikasie vermeld word. Titels is nie kursief nie. 'n Subtitel word van die hooftitel geskei deur 'n dubbelpunt.
Tydskrif:
VAN RENSBURG, F.I.J. 1989. Van Wyk Louw en sensuur. Literator, 10(2):30-44
Titels van tydskrifte word kursief geskryf. Geen aanhalingstekens word gebruik by titels van tydskrifartikels nie. Die relevante bladsynommers moet verstrek word.
Verhandeling/ Proefskrif:
DE WET, M. 2002. Die voedingswaarde van geprosesseerde kos. Potchefstroom: PU vir CHO. (M.sc.-verhandeling.)
Hoofstuk in 'n versamelwerk:
BOTHA, E. 1987. Die hart is in die fees - 'n aspek van die intertekstualiteit in die romans van Etienne le Roux. (In Malan, C.W. & Van Coller, H.P., reds. Vanweë die onbewuste. Pretoria: HAUM Literêr. p. 141-152)
By bydraes in versamelbundels moet die tersaaklike blassynommers vermeld word.
Internetgebruik:
NUNES, J. 1997. Hypermedia as a learning tool. http://www.shef.ac.uk/~is/lecturer/ircont.html Date of access: 14 Oct. 1998.
KANNEMEYER, J.C. 2005. Bestekopname van die Afrikaanse poësie. http://www.litnet.co.za/seminaar/konrij.asp Datum van gebruik: 7 Okt. 2005.
Koerantberigte:
- In aanhalings uit koerantberigte waar die outeur onbekend is, is die inskrywing onder Anon.
Voorbeeld van skryfwyse in die teks van die artikel:
Onlangs is met verontwaardiging gestel dat "net die opspraakwekkendste gegewens in 'n roman die koerant haal" (Anon.,2005:11)
In die bronnelys:
ANON. 2005. Kritici peper die media. Beeld: 11, 17 Feb.
Voorbeeld van skryfwyse in die teks van die artikel:
'n Briefskrywer het byvoorbeeld genoem dat ouers toenemend betrokke behoort te raak by hulle kinders se onderrig (De Klerk, 2005:9).
In die bronnelys:
DE KLERK, S. 2005. Ouers - dis julle taak! Beeld: 9, 23 Feb.
13. Bladuitleg
Titel van artikel en paragraafopskrifte (nie hoofletters nie, behalwe waar hoofletters noodsaaklik is).
14. Menings en kopiereg
Menings wat in die artikels uitgespreek word, is telkens dié van die betrokke outeur en word nie noodwendig deur die Redaksie of die Literatorvereniging van Suid-Afrika onderskryf nie. Kopiereg berus by die tydskrif.
15. Bydraes, korrespondensie en intekengeld
Hierdie tydskrif verskyn drie keer per jaar en word onder lede van die Literatorvereniging van Suid-Afrika versprei. U kan gebruik maak van die intekenvorm. Intekengeld beloop R150/$55 per jaar. Alle bydraes en korrespondensie kan gerig word aan:
Literator Buro vir Wetenskaplike Tydskrifte Privaatsak X6001 Potchefstroom 2520
Tel: (018) 299 4081
Faksno: (018) 299 4084
susan.lourens@nwu.ac.za
|