Twee klavier-vuurwerke vir dekaanskonsert
 Sophié Grobler en Pierre van der Westhuizen
Twee oudstudente van die Skool vir Musiek (Noordwes-Universiteit), Pierre van der Westhuizen en Sophié Grobler, is die kunstenaars in vanjaar se Dekaanskonsert wat op Donderdag 3 Augustus 2006 om 19:30 in die Konservatoriumsaal aangebied word. Hulle program sluit werke van Mozart en Schubert in, asook 'n fantasie op George Gershwin se "Porgy & Bess", en Lutoslawski se opwindende "Variasies op 'n tema van Paganini". Hulle doen ook mee aan die Shostakovich eeufeesvieringe met 'n uitvoering van sy "Concertino".
Hulle het hul debuut as die Westhuizen Duo in 2001 gemaak met 'n uitvoering van Bartók se "Sonate vir twee klaviere en slagwerk" in Youngstown, VSA. Ander optredes het gevolg by die College-Conservatory of Music in Cincinnati, Kent State University, en die Universiteit van Alabama. Optredes in Potchefstroom en Kaapstad die afgelope twee jare het gelei tot 'n uitnodiging om by vanjaar se Volksblad Kunstefees op te tree waar hulle uitvoering beskryf is as "musiek wat jou sewentig maal sewe keer beloon".
In 2005 word hulle maar die derde ensemble wat aanvaar word vir die Kunstenaarsdiploma program in Cincinnati, en vroeër vanjaar was hulle deel van 'n groep van slegs twintig pianiste wat deelgeneem het aan die PianoTexas/Cliburn Piano Institute, die eerste duo in die geskiedenis van hierdie wêreldberoemde fees.
Pierre en Sophié is albei onlangs aangestel as professors in klavier by Heidelberg College in die VSA, waar hulle 'n toekenning ontvang het om hulle eerste professionele CD-opname te maak.
Kaartjieverkope vir hierdie besondere konsert open op Maandag 24 Julie 2006 en besprekings kan tydens kantoorure by die Konservatorium in Vanderhoffweg gemaak word, tel. (018) 299-1692 of e-pos muserj@puk.ac.za. Bespreek asseblief vroegtydig om teleurstelling te voorkom.
|