Prof. Wannie Carstens, direkteur van die skool vir tale, se taalwenke sal voortaan een keer per maand hieronder gepubliseer word. Hy skop af met 'n woord wat verband hou met die Oracle-stelsel wat die NWU gebruik.
ERP word OHB Iemand vra onlangs waar kry ek al die idees vir hierdie rubriek. Dis redelik maklik, het ek geantwoord. Ek hou gewoon my oë en ore oop as mense op die kampus skryf en praat! So sit ek onlangs in 'n opleidingsessie oor finansiële bestuur en dr. Maarten Venter sê hy kry nie ‘n ‘lekker vertaling’ vir die Oracle ERP nie en dat hy daarom aanhou om die ERP te gebruik. Dit word ‘n uitdaging om hom dan wel ’n geskikte Afrikaanse term te gee. Met die hulp van kollega Johan Blaauw word so 'n term geskep. ERP staan vir Enterprise Resource Planning. My voorstel van ondernemingsbronbeplanning (OBB) word deur Johan aangepas. Hy sê dat dit eerder (al is dit langer) ondernemingshulpbronbeplanning (OHB) moet wees. “Resource in finansiële sin word meestal met hulpbron vertaal.” Hy voeg hierby: “My ou mentor by die SABS, Nic Vlok, het altyd gesê as die samestelling vierledig begin raak, moet 'n mens 'n koppelteken oorweeg, maar ek kan nie sien waar nie, want Onderneming-hulpbronbeplanning werk nie ('n mens wil die -s- hê), en die hulpbronbeplanning kan nie verdeel word sonder om die betekenis geweld aan te doen nie.” Dus: daar het Maarten sy term en kan ons voortaan met verwysing na Oracle die ERP vervang met OHB. Die ander euwels van Oracle is egter nie my en Johan se skuld nie!
-stander vs -staander
'n Navraag op 'n e-poslys oor die korrekte spelvorm van buitestander het 'n praktiese resultaat gehad. Tom McLachlan, een van die lede van die Taalkommissie, het die saak soos volg saamgevat en ek gee dit graag met sy toestemming hier deur: Die Taalkommissie - dus die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls - handhaaf 'n onderskeid tussen -stander en -staander: Enige samestelling met -stander wat op 'n mens dui, word met een a gespel (dus buitestander, omstander, voorstander, ens.), terwyl meubels, toerusting, ens. (dus nielewend) wat op -staander eindig, almal met dubbel-aa gespel word (boekestaander, hoedestaander, voëlhokstaander, lampstaander, ens.) Daar was in die verlede groot wisselvalligheid en verwarring oor wanneer dit een a en wanneer twee a's is ("buitestaander" was vroeër in veral die letterkunde die standaardvorm), en dit is nou deur die Taalkommissie finaal gestandaardiseer. Ondanks die spellings in woordeboeke, speltoetsers e.s.m. bly die AWS die hoogste gesag wat Afrikaanse spelling betref, en daarin word dié soort gevalle beslis nie as wisselvorme aangegee nie.
|