NWU Tuis  

 

 

 
Kontak ons  |  Soek
 
 
Studentevoorligtingsdiens

 

Demokrasie: ‘n Reis van tien jaar

Thapelo Selepe (Skool vir Tale, Vaaldriehoekkampus)

Na baie jare van onstabiliteit waarin daar ‘n swart wolk bokant Suid-Afrika gehang het en mense in bloed geswem het, het daar op 27 April 1994 ‘n reënboog bo die land verskyn en het die son weer uitgekom. Die donkerte het gewyk en mense kon helder sien; uitroepe is oraloor gehoor: Ons is vry! Ons is vry! Dit was wel waar dat die dag van vryheid aangebreek het, maar ons was lank nog nie in Kanaän nie. Dit was slegs die begin van die reis na die beloofde land. Eers moes ons nog deur die Rooi See trek, deur die woestyn stap en die Jordaan oorsteek voordat ons die beloofde land kon binnegaan.

27 April 1994 het vir elke Suid-Afrikaner ‘n ander betekenis gehad en vryheid het ook vir verskillende mense verskillende dinge beteken. Vir sommige het dit beteken om van hulle besittings afstand te doen, terwyl dit vir ander beteken het om te deel. Sommige het gemeen hulle kon nou doen net wat hulle wou – niemand kan iets aan hulle doen nie. Nog ander het agteroorgesit – die soort mense wat graag maai waar hulle nie gesaai het nie. Al hierdie verskillende vertolkings het ‘n nuwe golf van onstabiliteit en wrywing meegebring. Daar is baie verduidelikings hiervoor, maar slegs een rede word hier verskaf.

In sy boek, Pedagogy of the Oppressed, sê Freire Paulo dat verdrukte nasies gedurende die verdrukking met een stem praat en bymekaarstaan om die vyand te verslaan. Maar sodra die vyand oorwin is, begin hulle van mening verskil oor die betekenis van vryheid. Vir sommige beteken vryheid om te leef soos wat die voormalige vyand geleef het, met ander woorde om op hul beurt weer ander te onderdruk omdat dit is wat die vyand gedoen het. Onbewustelik wou hulle, terwyl hulle onderdruk was, soos die vyand wees. Daar is egter ook mense wat vryheid beskou as verantwoordelikheid – die verantwoordelikheid om mens te wees en met ander mense in ‘n gees van medemenslikheid saam te leef. ‘n Derde groep mense is dié sonder ‘n standpunt, sonder rigting. Al drie hierdie groepe is aanwesig in die nuwe Suid-Afrika en dit sal deur die volgende punte bevestig word.

 

Die grondwet van Suid-Afrika word beskou as een van die beste ter wêreld. Die voortreflikheid daarvan is so opvallend soos ‘n miershoop in die veld. Maar die groot vraag is of Suid-Afrikaners gereed is om hierdie nuwe situasie aan te pak. Die antwoord hierop is ‘n onomwonde “nee”.

Afrikane is besig om die dinge na te jaag wat hulle begeer het toe hulle onderdruk was, en wil graag soos die onderdrukkers wees. Afrikane skram weg van taal, kultuur, tradisies en gebruike – kyk maar wat belegging aan Afrikane gedoen het. Die regering probeer dit keer deur te sê: “Stop! Sorg vir die dinge wat aan julle behoort.” Maar hulle ruk los, soos ‘n Afrikaner-os sy horings uit ‘n juk wegruk. Krete van Afrika-Renaissance gaan by die dowes verby, maar sal hulle uiteindelik inhaal.

Wanneer ‘n mens dinge in perspektief plaas, is Suid-Afrika in die derde fase van die reis na demokrasie. Die eerste fase was dié van versoening onder oud-president Nelson Mandela. Die tweede fase was president Thabo Mbeki se eerste termyn as president. Gedurende hierdie fase het Mbeki gesê almal moet hard werk vir Suid-Afrika en vir Afrikane. In die huidige fase klap hy die sweep hard en sê, as jy nie die pas kan volhou nie, moet jy liewer padgee. Hy is besig om druk uit te oefen om dinge hier te lande, sowel as in Afrika en oor die hele wêreld te laat gebeur. Sommige mense wou hom van stryk bring deur te sê dat hy kop in een mus met Robert Mugabe van Zimbabwe is. Baie mense meen hy moes nie aan die uitgeweke president van Haiti, Jean-Bertrand Aristide, asiel verleen het nie. Maar Mbeki meen Aristide is ‘n mede-Afrikaan wat nie Suid-Afrika toe gekom het nie, maar huis toe gekom het. In die Afrika-kultuur is daar nie hawelose kinders nie – ons weet ons is wat ons is deur die toedoen van ander mense.

Om verdere perspektief te verkry op wat gedurende die tien jaar van demokrasie bereik is:  dit het duidelik geword dat daar grense is wat niemand mag oorsteek nie. Diegene wat hulp nodig het, kry dit. Geleenthede deur groepe soos Umsobomvu, die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsbank, Eduloan (‘n fonds vir behoeftige studente), en vele meer toon aan dat Suid-Afrika op die regte pad van ontwikkeling is. Skole en instellings vir hoër onderwys het ook in voorkoms verander, hoewel dit nog nie voldoende is nie. Hier en daar is nog tekortkomings waarna omgesien moet word.

Een hiervan wat vinnig reggestel moet word, is die reg op taal en kultuur in opvoeding. Kundiges stem saam dat ‘n deeglike kennis van mense se moedertaal die belangrikste fondament van opvoeding is. Verder moet skoolonderrig betekenisvol wees vir die kind se daaglikse lewe. Baie mense dink nog steeds dat om Engels te kan praat van jou ‘n opgevoede mens maak. Wat egter van belang is, is diepgaande kennis van die wêreld rondom jou – dis waar opvoeding begin – en dan verder uit te brei. Hierdie dwaalbegrip oor taal en opvoeding het tot gevolg dat baie mense nog in die duister begin, op soek na selfverwesenliking. Baie van hulle kom verward terug, vol littekens en vol vrae. Die waarheid is dat selfverwesenliking en kultuur in ‘n mens se moedertaal omvat is  – dit is terselfdertyd jou skild en assegaai.

Dit word bewys deur die geskiedenis van die wêreld dat die meeste ontwikkelde lande vasgeklou het aan hul taal en kultuur. Twee voorbeelde is dié van Duitsland en Japan. Hierdie twee lande is gedurende die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) vernietig, maar is tans voorlopers op die gebiede van ekonomie, opvoeding en tegnologie. Duitsers praat Duits, eet Duits en leef Duits. Dieselfde kan van die Japannese gesê word: hulle praat, eet en leef volgens die Japannese leefwyse. Maar as ons hier in Afrika om ons kyk, staan ons agter in die ry. Waarom?

Die volgende verduideliking sal miskien ons oë laat oopgaan.

Ghana was in 1957 die eerste Afrika-land wat onafhanklik geword het onder die leierskap van Kwame Nkrumah, nadat die koloniale Britse regering verslaan is. Nadat Nkrumah en sy kabinet gesetel is, en die land se situasie ondersoek het, kom hulle agter dat Ghana se ekonomie swak is en dat hulle nie die nodige kundiges het om dit reg te ruk nie. Daar word besluit om die Britte te vra om terug te kom na Ghana, geld in Ghana te belê en kundiges oor te stuur. Wat verstommend is, is dat hierdie Britte dieselfde mense is wat nie daarin kon slaag om Ghana voorspoedig te maak toe hulle aan bewind was nie. Wat het Nkrumah en sy kabinet laat glo dat die Britte wat moes terugkom, voorspoed vir Ghana sou bring? Dit lyk asof die hele Afrika hierdie pad gevolg het en dit is die rede waarom Afrika onontwikkeld is in vergelyking met ander lande en nasies.

Dit is belangrik dat ons, as Suid-Afrikaners, bewus moet wees van hierdie strik en nie ook daarin trap nie. Afrika-Renaissance is duidelik waar dit sê: “Hou die skild stewig vas en veg die hewige geveg. Werf die Senegalese, want jou nasie is sterwend.”

 

© 2009 Noordwes-Universiteit. Alle regte voorbehou.
Voorwaardes en Bepalings